Parys oor die jare: 150 jaar van stories, mense en herinneringe

Vir 150 jaar is Parys veel meer as net ’n dorp op die kaart. Dit is ’n plek waar geslagte grootgeword het, waar families tradisies begin het en waar herinneringe gemaak is wat vandag nog met ’n glimlag vertel word.

Elke persoon wat al in Parys gewoon het of die dorp besoek het, dra ’n stukkie van Parys saam met hom. En elke geslag het sy eie stories.
Vir baie begin daardie stories by Mimosa. Die plek waar gesinne oor Desember kom kamp het, waar kinders ure lank in die son gespeel het en waar die dae eenvoudig nooit lank genoeg gevoel het nie. Later het die ‘supertube’ vir baie van ons die hoogtepunt van elke vakansie geword. Wie onthou nog die opgewondenheid om die daar af te gly, die lag, die sonbrand en die belofte dat “nog net een keer” nooit regtig net een keer was nie?

En dan was daar die Vaalrivier.

Voordat tablette, selfone en videospeletjies kinders se aandag gegryp het, was die rivier ons speelgrond. Ons het blaarbootjies gebou en hulle stroomaf gestuur. Ons het in die vlak water gespeel, vis gevang, op trapbootjies uitgegaan en ure langs die oewer deurgebring. Dit was ’n eenvoudiger tyd, maar een wat vandag nog kosbare herinneringe oproep.

Parys se skole vertel ook hul eie verhaal.

Vir baie families loop daar ’n goue draad deur die klaskamers van die dorp. Oumas en oupas het hier skoolgegaan. Daarna hul kinders. Toe die kleinkinders. En vandag stap die vierde of selfs vyfde geslag nog elke oggend deur dieselfde skoolhekke. Intussen het Parys gegroei en bied die dorp vandag meer skole en opvoedkundige geleenthede as ooit tevore, maar die gevoel van gemeenskap het altyd dieselfde gebly.

Wie onthou nog die dae van die groot skou by wat ons vandag ken as die Afridome? Vir baie Parysenaars was dit een van die hoogtepunte van die jaar. Die liggies van die pretparkritte, die reuk van vars kos, die uitstallings van ou trekkers en landboumasjinerie, die diere, die kompetisies en die opgewondenheid wat die hele dorp saamgebring het. Vandag is Afridome steeds ’n bekende bestemming vir groot landbougeleenthede, veilings en skoue wat mense van regoor Suid-Afrika lok.

Met verloop van tyd het Parys aanhou ontwikkel. Waar daar eens net ’n paar winkels was, het nuwe winkelsentrums, restaurante en bekende handelsmerke hul deure oopgemaak. Ons onthou nog hoe opgewonde almal was toe ons eerste KFC oopmaak. Vandag het die dorp selfs meer winkels, meer restaurante en meer om te beleef as ooit tevore.

Maar ten spyte van al hierdie veranderinge, is daar iets wat nooit verander het nie.

Die hart van Parys.

Dit is steeds die vriendelike groet in die straat. Die bekende gesigte by die plaaslike winkels. Die rustige oggende langs die Vaalrivier. Die kunstenaars, entrepreneurs, boere, onderwysers, sportlui en inwoners wat elke dag help om hierdie dorp iets besonders te maak.

Parys het oor die afgelope 150 jaar baie verander. Nuwe geboue het verrys. Besighede het gekom en gegaan. Kinders het grootgeword en hul eie kinders hier kom grootmaak. Tog leef die ware geskiedenis van Parys nie net in foto’s of argiewe nie. Dit leef in die mense wat die dorp hul tuiste noem.

Nou is dit jou beurt.
Vertel ons van jou Parys.

Watter plek laat jou terugdink aan jou kinderdae? Het jy ou foto’s wat jy graag wil deel? Onthou jy ’n winkel wat nie meer bestaan nie, ’n skoolherinnering, ’n vakansie by Mimosa of ’n dag langs die Vaalrivier?

Hierdie 150-jarige viering gaan nie net oor die geskiedenis van ’n dorp nie. Dit gaan oor die mense wat daardie geskiedenis geskryf het.

Ons nooi jou om jou stories, foto’s en herinneringe met ons te deel, sodat ons saam die verhaal van Parys kan vertel.

Want uiteindelik is Parys nie net ’n plek nie.
Dit is ’n leeftyd se herinneringe.

Similar Posts