PARYS 150
Deel 12: Parys en Water
Erfenisdag | 24 September 2026
Die Vaalrivier is onlosmaaklik deel van Parys se geskiedenis. As ’n belangrike waterbron het die rivier ’n groot rol gespeel in die permanente vestiging van mense in die gebied, en later ook in die ontwikkeling van landbou, handel en die dorp self.
Die Vaalrivier bring mense na Parys
Die Vaalrivier het groot hoeveelhede wild gelok, wat op sy beurt jagters en later veeboere na die gebied aangetrek het. Die rivier en die driwwe wat deurgang deur die rivier moontlik gemaak het, het veral in hierdie omgewing ’n belangrike rol gespeel in die vestiging van pioniersboere sedert 1838.
Plase is gevestig en veeboere en landbouers het hulle hier kom vestig. Die beskikbaarheid van water, asook kommer oor droogtetye, het reeds vroeg in die 1800’s aanleiding gegee tot verskeie planne om water op te gaar, te gebruik, te beskerm en te beheer.
Die eerste inwoners het die laagliggende dele begin besproei deur ’n kanaal te grawe vanaf ’n klein watervalletjie in die Vaalrivier. Later is ’n keerwal gebou om die water op te dam. Die keerwal is eenvoudig met klippe en grond gebou, maar dit het dikwels weggespoel en moes telkens weer opgebou word. Die gebruikers van die water moes self die kanaal en keerwal herbou en onderhou.
Die eerste waterdispute
Die eerste sowat ses jaar was daar min ontwikkeling en vordering in die nuwe dorpie. Slegs ongeveer drie van die kopers van die eerste erwe het hulle hier gevestig.
Dit was eers vanaf 1882, nadat mnr. J.P. Steytler as Vrederegter in Parys aangestel is, dat die dorpie begin groei het en meer inwoners hulle in Parys kom vestig het.
Met die groei van die dorp het die dispute oor die verdeling van water uit die kanaal begin. Daar was eenvoudig nie genoeg water in die kanale vir almal se onbeheerde gebruik nie.
In 1883 is ’n Dorpsraad gestig en mnr. Adriaan Becker is as Waterfiskaal aangestel teen ’n salaris van £7 per maand. Watergebruikers moes voortaan ’n bedrag betaal vir hul watergebruik.
Hierdie “belasting” is heftig deur inwoners en boere teengestaan. Die eerste maand het die Dorpsraad genoeg geld ingevorder om die Waterfiskaal te betaal, maar toe begin dit goed reën. Niemand wou toe verder betaal nie, want die boere en inwoners het mos nou genoeg water gehad.
Vir sewe maande het die Waterfiskaal gevolglik geen geld ontvang nie.
Die stryd om genoeg water
Die probleem dat daar nie genoeg water in die kanaal vir almal was nie, het egter voortgeduur.
’n Groot eiland het die rivier se stroom in twee verdeel, met die Transvaal-kant wat die meeste water ontvang het. Aan die Vrystaat-kant is ’n keerwal van klip, grond en sandsakke gebou om water vir die kanaalgebruikers op te dam.
Hierdie keerwal moes ná elke vloed herstel word. Die inwoners het dikwels verkies om self te help om die wal te herstel eerder as om waterbelasting te betaal.
Die volgende plan om die waterprobleem op te los, was om ’n kanaal reg oor die Grooteiland te grawe. Die doel was om van die water aan die Transvaal-kant oor te laat loop na die Vrystaat-kant.
’n Lening is aangegaan en ’n diep kanaal, byna reghoekig met die rivier se stroom, is gegrawe. Hierdie reuseprojek was egter onsuksesvol. Water het slegs in die kanaal afgestroom wanneer die rivier in vloed was – juis wanneer die ekstra water nie nodig was nie.
Swaar tye vir Parys
Landbou het aanvanklik maar stadig in en om Parys ontwikkel. Verskeie faktore het hiertoe bygedra: die ekonomiese depressie, die ineenstorting van die volstruismark, probleme in die diamantbedryf, verafgeleë markte en paaie wat moeilik begaanbaar was.
Kimberley was die naaste groot mark en die spoorlyn vanaf die suide tot daar het produksiekoste verlaag. Die mark was egter ver en om plaasprodukte per wa vanaf Parys te vervoer, was eenvoudig te duur om werklik te kon meeding.
Dit was swaar tye – honger tye – in Parys.
Daar word vertel dat mans selfs duiwe met pyl en boog vir die pot geskiet het. Ammunisie was te duur, terwyl dit betreklik maklik was om ’n pyl en boog saam te stel.
Goud verander Parys se toekoms
Toe verander alles skielik in 1886.
Goud word aan die Witwatersrand ontdek en Parys bevind hom nou op die hoofroete vanaf Bloemfontein na die noorde. Digby Parys was twee belangrike driwwe, naamlik Lindequesdrift en Ou Viljoensdrif.
Reisigers en handelaars het nou deur die sukkelende ou dorpie begin beweeg – en geld begin spandeer.
Parys begin opstaan.
Die Dorpsraad word later ’n Munisipaliteit. Volgens die historiese bron was dit egter ’n munisipaliteit wat min visie gehad het en beperkte beplanning vir die toekoms en vooruitgang gedoen het.
Meer hieroor in Deel 14: Planlose Munisipaliteit.
Die spoorlyn bring nuwe lewe
Ná die Anglo-Boereoorlog is ’n eie spoorlyn vir Parys gebou. ’n Groot kamp vir werkers, bouers en ingenieurs is digby Parys ingerig.
Dit het heelwat werksgeleenthede geskep en natuurlik ook nuwe verbruikers vir plaaslike produkte na die dorp gebring.
Benewens die spoorlyn het die Raad ook beplan om ’n dam by Brakfontein-Palmietfontein, ongeveer vyf myl stroomop van Parys, te bou.
Ongelukkig ontvang die Raad met die opening van die spoorlyn na Parys in Desember 1905 die slegte nuus dat die dam nie gebou kon word nie. Die koste daarvan sou eenvoudig te hoog wees.
Die Raad moes dus ’n ander oplossing vind.
Die keerwal wat Parys verander
Die besluit word geneem om ’n keerwal reg oor die Vaalrivier, naby die dorp, te bou.
Ten spyte van groot besware oor die finansiële las en die gepaardgaande belastings, word die keerwal uiteindelik gebou. ’n Turbine-pompstasie en reservoir word ook geïnstalleer, wat die Raad in staat stel om water aan ’n veel groter gebied te voorsien.
Uit die twee kanale kon meer as 1 000 morg grond besproei word.
Daar was nou genoeg water – soveel so dat dit nie eens meer nodig was om leibeurte streng te reël nie.
Die beskikbaarheid van water het natuurlik die waarde van grond en erwe aansienlik verhoog.
Teen 1912 het die leivore dit ook vir baie inwoners moontlik gemaak om groente en vrugtebome te plant.
Water bring lig na Parys
Die Raad het uiteindelik meer water gehad as wat die dorp kon gebruik. Hulle besluit toe om die beskikbare water te benut om krag op te wek sodat Parys elektrisiteit kon hê.
En so gebeur dit dat Parys teen Kersfees 1912 elektriese ligte kry.
Water het dus nie net landbou en ontwikkeling moontlik gemaak nie – dit het letterlik lig na die dorp gebring.
Nog meer water vir ’n groeiende dorp
Die bou van ’n brug oor die Vaalrivier het Parys verder toeganklik gemaak. Boerdery en handel het begin floreer. Nywerhede en nuwe geboue is opgerig en meer grond is bewerk.
Maar soos Parys gegroei het, het die waterbehoefte ook toegeneem.
Die water van die bestaande pomp was binnekort nie meer voldoende nie.
Die Raad besluit toe om die keerwal met vier voet te verhoog en nog ’n turbine en pomp aan te bring. Hulle verkry toestemming om van beide kante af te bou – destyds was die Vrystaat en Transvaal immers twee verskillende state.
Die bouwerk begin, alhoewel die verkryging van fondse ’n groot struikelblok was.
’n Groot deel aan die Vrystaat-kant was reeds voltooi toe die Unie van Suid-Afrika tot stand kom. Onbewus van die nuwe reëlings en wette, en dat hulle weer toestemming van die Waterraad moes verkry omdat nuwe regulasies bepaal het dat water in strome nie sommer opgedam mag word nie, gaan die bouwerk voort.
Die Waterraad stop egter die projek summier en dit word met maande vertraag voordat toestemming uiteindelik verkry word.
Intussen verlaat die ingenieur en bouer die projek en weier om die werk te voltooi.
En toe kom nóg ’n terugslag.
Die vloed wat alles bedreig
’n Onverwagse vloed tref die gebied. ’n Eiland aan die Transvaal-kant in die opgedamde gedeelte breek weg en spoel teen die nuutgeboude wal.
’n Groot boom se wortels op die eiland veroorsaak ernstige skade aan die bokant van die wal. Van die dekstene, oftewel “coping stones”, breek weg.
Dit laat ’n gat in die muur, waarna al die water wegspoel.
Die situasie lyk weer kritiek.
Die Departement van Waterwese bied egter hulp met die bou van ’n sterker en hoër keerwal.
Die krisis word uiteindelik opgelos.
Daar sou voortaan genoeg water wees vir Parys, met slegs abnormale droogte wat moontlik weer tot ’n tekort kon lei.
Ná klagtes van die Rooibult-eienaars maak die Raad ook hulle dam groter en bou ’n reservoir vir Rooibult.
Met die voltooiing daarvan was daar uiteindelik weer genoeg water vir almal in Parys.
Die Vaalrivier, meer as net water
Die geskiedenis van Parys wys duidelik hoe belangrik die Vaalrivier nog altyd vir die dorp was.
Die rivier het aanvanklik wild, jagters en pioniers gelok. Daarna het dit boerdery moontlik gemaak, maar ook konflik oor water veroorsaak. Mettertyd het die beheer en beskikbaarheid van water ’n belangrike rol gespeel in die uitbreiding van landbou, die groei van die dorp, die ontwikkeling van nywerhede en selfs die aankoms van elektriese ligte.
Van die eerste eenvoudige kanaal en klipwal tot ’n stelsel van kanale, pompe, reservoirs en ’n sterker keerwal – Parys se ontwikkeling is diep verweef met die water van die Vaal.
Hierdie is deel van die verhaal van Parys
