DEEL 11
PARYS 150
ERFENISDAG | 24 SEPTEMBER 2026
PARYS – DIE GROOT TREK: SIMBOLIESE OSSEWATREK
1838 – 1938
Tydens die Simboliese Ossewatrek in 1938 (Voortrekker Eeufees. 1838 – 1938) het van die ossewaens op hulle reis vanaf Kaapstad na Pretoria, Parys besoek. Op 7 November 1938 het meer as ‘n 1000 mense op die wabrug gewag vir die aankoms van die ossewaens. Oud-stryders, moeders en dogters het die Andries Pretorius-wa en die Hendrik Potgieter-wa vanuit die Vrystaat oor die Vaalrivier-brug tot in die Transvaal getrek. Hierdie oorhandelingsplegtigheid is deur groot feesvieringe in Parys voorafgegaan.
Kennisgewing uit: PARYS POST
Tuesday, NOVEMBER 1 1938
Voortrekkereeufees in Parys: 5 tot 7 November, 1938
Publieke Kennisgewing
VUURWERKE BELET OP 5 NOVEMBER:-
Kragtens die Munisipale regulasies word enige vuurwerkvertonings binne die gebied, begrens deur Waterstraat, S.A. Spoorweëgronde, Van Collerstraat, en die rivier, asook binne die Mimosa Tuine, belet op 5 November 1938.
TOEMAAK VAN MUNISIPALE KANTORE:-
Die Munisipale kantore sal gesluit wees vanaf 9.30 v.m. op Saterdag 5 November 1938.
BEHEER VAN VERKEER EN TOEMAAK VAN STRATE:-
Die Van Coller- en Boomstrate ingange, regoor Mnr. Turner se kamphuisies, na die Mimosa Tuine sal gesluit wees vanaf 7uur v.m., op di 5de deser tot 7 uur v.m.op die 7de deser. Die enigste ingange na die feesterrein sal in Kruisstraat en Boomstraat wees…
Op Las, van die Stadsraad.
AMPTELIKE PROGRAM
Amptelike ontvangs en erewag van dogters. Welkomswoord en kort godsdiens
Prosessie na dorp: Raadslede en Burgemeester, Erewag van dogters, Voortrekkerwaens, Perdekommando, Perdekarre, Motors.. Trek deur die dorp
Onthulling van klipstapel by die skool.
Feesterrein: Welkomswoord, ontvang van geskenke, geskiedenisvertellings, sang, Voortrekkerdanse, tablo’s, koorsang, doopbedieng, besoek museum.
DIE VADERLAND
MAANDAG 7 NOVEMBER 1938
“PARYS VIER MOOISTE FEES VAN VRYSTAAT
Pragtige Samewerking Laat Geesdrif Hoog Opvlam
SKAAR LÊ ALLE GESKILLE BY OM VOORTREK TE HULDIG
PARYS 5 Nov. – Die ossewaens “Andries Pretorius” en”Hendrik Potgieter” het vanoggend in Parys aangekom om by die mooiste fees nog in die Vrystaat gehou en in eg-feestelike en vrolike stemming hulde te bring aan die Voortrekkers. Die gees van samewerking en…. Het die glimlaggende skaar van 2 000 met sorgelose geesdrif vervul.
Na die oggenddiens is die optogte na die dorp gelei deur die Burgemeester en reëlingskomitee. Hulle is gevolg deur ‘n twintigtal meisies geklee in wit feesgewaad op wit perde onder leiding van kapt. Uys wat die distrik dae lank deursoek het om twintig wit perde te kry.
By die skool het Maj. Troskie Maré ,LPR, ‘n klipstapel onthul. Die monumentjie is deur die skoolkinders gebou en die skoolkinders het met die stapeling van die gedenksteen by die skool die volgende gelofte afgelê:
“ Ons belowe om te bou op die fondamente wat die Voortrekkers gelê het deur van onsself bruikbare en selfrespekterende landsburgers te maak en deur die belange van ons dierbare Suid-Afrika te stel bo eie voordeel en kleinlike haat.”
Die wawielspore en die osse se spore kan nog duidelik voor die monumentjie langs die skoolsaal gesien word.
By die Hervormde Kerk is twee klipstapels onthul.
By die Stadshuis is die markplein herdoop na Andries Pretorius-plein en een van die hoofstrate het die naam Liebenbergstrekstraat ontvang.
Hiervandaan is die optog aangevul deur ‘n paar honderd skoolkinders met wapperende vlae en ‘n groot aantal oud-stryders, te voet langs die lowerryke walle van die Vaal. Tussen die doring- en bloekombome het ‘n groot skaar vergader vir die verrigtinge van die dag.
Later in die middag is besoek gebring aan die bekende Liebenbergkoppie.”
KLIPSTAPEL
‘n Klipstapel ter herdenking aan die Groot Trek is tans aan jou regterkant as jy Parys binnekom vanaf Sasolburg se kant af. Dit is gebou van rivier- en veldklippe wat feesgangers saamgebring het en een vir een op die stapel gepak het.
Bo-op die klipstapel is ‘n ossewa remskoen ( ou Ossewa-briek) op ‘n maalklip. Die simbool van die ossewa word algemeen gebruik om die Groot Trek voor te stel.
Die maalklip is simbolies van die Engelse verdrukking en die maal van die volk.
Kobie Ströh nms Sentraal en Vaal Kultuurgroepe.
