Deel 7: PARYS 150
Parys 150 jaar
ERFENISDAG 24 SEPTEMBER
(NMS Sentraal Vaal kultuurgroepe-Kobie Ströh)
PARYS TYDENS DIE ANGLO-BOEROORLOG (ABO) 1899-1902
Parys het baie swaar gely tydens die Anglo-Boereoorlog.
Die manne van Vredefort en Parys het by die Heilbron-Kommando ingeskakel.
Parys was sentraal in die bewegings van die Boerekommando’s met hulle guerrilla-taktieke. Die omgewing wat omring is met rante en die driwwe deur die rivier was ideaal vir die Boere se kat-en-muis tegniek van onverwags aanval en vlug. In die rante en op die beboste eilande was oorvloedige wegkruipplekke vir Kommando’s.
Generaal Christiaan de Wet was die meester en kenner van die koepel en hy het veral hierdie Vredefort en Vaalrivier gebied gebruik om die Britte te ontduik.
Christaan de Wet was ñ groot doring in die Britte se vlees en hulle het met ñ massiewe dryfmag probeer om De Wet hier vas te keer, maar hy het telkens daarin geslaag om hier in die rante te ontvlug.
Die Britte het Parys vroeg (Mei1900) oorgeneem en hulle spore van verwoesting daar gelaat. Die meeste geboue in die dorp was vernietig.
1901 het Lord Kitchener gerapporteer dat hulle geen voorrade in die Parys -Reitzburg-streek agtergelaat het nie.(Verskroeide Aarde-Beleid).
Die vrouens en kinders is weggevoer en in haglike omstandighede in die Vredefortweg Konsentrasiekamp aangehou.
DIE NG – MOEDERGEMEENTE PARYS: KERKGEBOU
1882 is die Nederduits Gereformeerde Kerk in Parys gestig.
1899 is die kerk gebou en die kerkgebou is voltooi met die aanvang van die ABO.
Die inwyding van die kerk is meestal net deur vrouens en kinders bygewoon aangesien die manne reeds opgeroep was vir die oorlog.
Tydens die ABO het die Britte Parys ingeneem en die nuutgeboude kerkgebou gebruik as fort.
Morne van Rooyen skryf op sy Facebook blad KERKGEBOUE VAN SUID-AFRIKA: April 30, 2015
“Ek lees nou die dag dié stukkie, wat in 1952 geskryf is, oor Parys se moederkerk raak: Hoewel Parys vinnig besig is om alle spore van sy harde, karige kinderjare uit te wis en haastig voortskry om inderdaad die ‘Koningin van die Vaalrivier’ te word, is die huidige kerkgebou een van die dinge wat in sy ongesmukte eenvoud die verbyganger dwing om terug te blik. Die mure vertel hoedat hul net voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog gebou was met stene wat nie die tyd gegun was om af te koel nie. Die hoeksteen deel mee hoedat dit die vernedering moes ondergaan om deur Engelse troepe uit sy oorspronklike plek gelig te word omdat hulle gedink het dat dit miskien groot skatte kon herberg. Op die kerkbanke het die spykers van Engelse oorlogstewels onuitwisbare merke agtergelaat. In die Kanselbybel kan gelees word die handtekeninge van genoemde besettingstroepe met vermelding van die regimente waaraan hul behoort het. Vra iemand waarom die kerkgebou so weggesteek is agter ander geboue, dan kom die antwoord dat daar tye was toe ‘n ondraaglike skuldelas die kerkraad verplig het om stuksgewyse kerkgronde te verkoop.”
Selfs die kerktoring en klok het deurgeloop.
Lees meer:
NG Kerk Parys / Moedergemeente : Parys NG Kerk – Monumente, Gedenktekens en Interessanthede in Suid Afrika (www.monument-sa.co.za)
Frans Jooste Ammunisiewa / Dinamietwa: Frans Jooste Monument Ammunisiewa ontplof. Tussen Vredefort en Parys – Monumente, Gedenktekens en Interessanthede in Suid Afrika
Kopjeskraal / Rensburgdrif 1900 : Slag van Rensburgdrif / 27 Oktober 1900 / ABO – Monumente, Gedenktekens en Interessanthede in Suid Afrika
NA DIE ABO
Na die ABO moes die inwoners van Parys die dorp weer feitlik van nuuts af opbou en ñ nuwe begin maak. Die oorlewende vrouens en kinders het uit die konsentrasiekampe teruggekeer na algehele verwoesting en het dadelik ingespring om te herstel en opbou. Harde werk het ook vir die Boere-vegters voorgelê toe hulle uit ballingskap en krygsgevange- kampe terugkeer.
