PARYS 150
ERFENISDAG 24 SEPTEMBER 2026
Deur: Sentraal Vaal Kultuurgroepe ( Kobie Ströh)
Pioniers van Parys
Middel 1800’s vestig die VAN COLLER Familie hulle op groot plase hier langs die Vaalrivier. Hulle noem die massiewe hoofplaas Klipspruit. Die vroeë Vrystaatse pionier Johannes Daniël van Coller ( gebore 1783 in die Kaapkolonie en sterf 1863 Klipspruit), getroud met Susannah Maria Spies van Coller (1794-1865) vestig die plaas Klipspruit. Die oorspronklike opstal wat in 1853 gebou is, staan tans nog in Oranjestraat. Dié huis is netjies gerestoureer en word as ñ gastehuis bedryf.
Die Van Coller gesin was ñ groot gesin met minstens 7 kinders.
Na die dood van hulle ouers word drie Van Coller broers en hulle suster mede-eienaars van die hoofplaas Klipspruit en saam woon en bestuur hulle die plaas Klipspruit.
Hulle was:
Johannes Daniël van Coller (Hans/Jan), die oudste seun na sy vader vernoem,
Adolf Johannes van Coller ( Dolf),
Philippus Lodewyk Petrus van Coller (Philip)
en
Elizabeth Hermina van Coller, weduwee Davel.
(Vandag vind ons nog steeds hulle nalentskap in die name van Dolfstraat, Philipstraat en Van Collerstraat ( vernoem na oudste seun Hans) in Parys. Ook die Van Coller Brug.)
Groot uitgestrekte plase soos Kopjeskraal, Buffelshoek, Palmietfontein, Witkop, Rietfontein, Koedoespoort vorm hulle bure. Die inwoners is wyd verspreid en afgeleë en woon vêr van mekaar af. Kroonstad was die naaste dorp en ook die naaste kerk. Met ñ wa en osse het dit ñ hele paar dae geneem om die kerk op Kroonstad te besoek. Die wapaaie was veral in die reënseisoen onbegaanbaar en die riviere in volle vloed. Gereelde besoeke aan Kroonstad vir kerkdienste was bykans onmoontlik. Aan die Transvaalkant was Potchefstroom die naaste dorp, maar die Vaalrivier wat gekruis moes word by die driwwe was ñ groot uitdaging.
Die boere in die area het besluit om ñ eie kerk hier te stig sodat die lang en strawwe reis na Kroonstad toe nie meer nodig is nie. Hulle reken die mooi plaas Klipspruit so langs die Vaalrivier is die ideale plek daarvoor. 1874 word die plaas Klipspruit besoek deur 3 mans, Mnre De Villiers, Luyt en ñ landmeter Fleck. Hulle vra toestemming om ñ dorpie op die plaas Klipspruit uit te lê. Die van Coller-broers weier volstrek om hulle plaas beskikbaar te stel.
Die 3 mans nader toe ñ aanliggende plaas, Vischgat, en verkry toestemming. Die dorpie wat daar sou ontstaan is Vredefort.
Die Van Coller-broers besef gou dat hierdie aanvanklike weiering ñ groot fout was. Vindingryk maak hulle toe ñ nuwe plan. As teenvoeter teen die beoogde gemeente op Vredefort bied hulle toe aan die Ring van die Nederduits Gereformeerde Kerk ñ massiewe gedeelte van Klipspruit aan vir die bou van ñ kerk en moontlik ñ paar groot erwe. Sodoende verseker hulle toe die stigting van ñ nuwe gemeente op hulle plaas. Die historiese NG Moederkerk staan vandag nog op hierdie geskenkte grond.
Kom deel in die Parys 150 feesvieringe op Erfenisdag en beleef die kulturele rykdom van Parys en omgewing.
Bron: Wikipedia, www.monument-sa.co.za, Parys Info
