Die lekker van Parys is sy mense
Dit is van die skoonste dorpe in die land, sê dié man wat verantwoordelik was vir die film Faith like Potatoes wat deur meer as 500 miljoen mense gekyk en in 17 tale vertaal is.
November 21, 2024
Liezl Scheepers 2 minutes read _ proudly reported by Parys Gazette
Daar is min dorpe wat so onder jou vel kom lê soos Parys. Die Vrystaatse afdruk van sy Franse naamgenoot wat geensins afsteek as dit kom by die romantiek en unieke karakter van die dorp. Sommer so met die inry op ‘n Saterdagoggend sien jy die talle motorfietse langs die hoofstraat geparkeer, en die vele voete met rugsak en tekkies wat die strate invaar om hier egte plattelandse hartlikheid te ervaar. Dan verstaan jy hoekom stedelinge hier hul hart verloor, want die lekker van Parys is sy mense, gesels filmmaker Frans Cronje.
Dit is van die skoonste dorpe in die land, sê dié man wat verantwoordelik was vir die film Faith like Potatoes wat deur meer as 500 miljoen mense gekyk en in 17 tale vertaal is.
Frans is ‘n man wat die Vrystaat ken. Deur sy kameralens het hy 270 van die mooiste plekke in veral die Oos-Vrystaat aan mense bekendgestel met sy bemarking van die provinsie as toerisme-bestemming deur gedeeltelike befondsing van die Vrystaatse Departement van Ekonomiese en Klein Sake Ontwikkeling en Toerisme.
Vir hom staan Parys en Clarens kop en skouers uit, sê hy waar hy vroegoggend ontbyt by Liewer Koffi in Parys se hoofstraat saam met sy vrou, René, en dogter, Marié, geniet, met sy twee dae besoek aan die dorp vir ‘n program oor Parys en sy mense.
Frans Cronje besig met verfilming by LIewer Koffi
Die program sal op sy splinternuwe stroomkanaal gesien kan word wat op 9 Desember in Suid-Afrika geloods word, en daarna ook internasionaal toeganklik sal wees. Die stroomdiens sal ‘n kombinasie van dramareekse, films en toerisme gedrewe programme bied met geleentheid vir kykers om interaktief te kan deelneem.
“Ons was taamlik oral,” gesels hy oor sy besoek aan Parys. ‘n Dorpie met sy kunskarakter, oudhede skatte, winkeltjies soos krale ingeryg langs die hoofstraat, en prag natuurskoon langs die Vaalrivier waarmee besoekers met ope arms omhels word. “Omdat toerisme as geheel bemark word, is gewys wat die dorp aan die toeris bied met van restaurante en koffiewinkels, tot akkommodasie en avontuur-toerisme,” sê Frans.
Sy passie vir die platteland kom al ‘n lang pad, vertel hy as hy gesels oor die mooi van die Oos-Vrystaat, maar ook die stukkend met die talle slaggate. “My droom is om plekke wat verval weer reg te maak,” sê hy.
‘n Droom wat hy ook verwesenlik het toe hy in 2002 die ou Sasko-silo’s in Senekal lewe kom gee het met sy filmstudio. Hy het reeds vyf films gemaak, en nou is sy fokus op dramareekse. Om toerisme te bevorder is vir hom ewe belangrik. “Ek droom daarvan om weer mense met die trein na die Vrystaat te bring,” sê hy. Verlede week was dit eerste keer dat hy in Parys oornag het, en hoor jy in sy gesels dat ook hy hier hart verloor het op die dorpie aan die soom van die Vaal.
Hy gesels oor Parys se sentrale ligging, die lekker vibe van plattelandse dorpe en die eertydse glorie van die Mimosa Tuine wat Parys vroeër jare oor die land bekend gemaak het. “Verskeidenheid is wat jy hier kry,” sê hy, “van luuks tot meer bekostigbaar.”
Hy en René was albei fisioterapeute van beroep gewees, en voor dit het hy professioneel rugby en krieket gespeel. Selfs krieket afgerig, maar hy mis nie sy lewe as professionele sportman nie. Daarvoor is daar té veel planne in sy kop vir Hollywood standaard films en reekse, en die mooi wat die Vrystaat bied.